As jy enigiets soos ek is, dan probeer jy ook die telefoon vermy. In ons huis is my vrou al gewoond daaraan dat ek nie juis te oorgretig is om die telefoon te antwoord nie. Dus het dit haar ‘werk’ geword. Maar as antwoord nog nie erg genoeg is nie, dan kan ek jou verseker dat ek lang talm voordat ek ‘n oproep maak. Ek hou uiters min daarvan. Veral as ek iemand onbekend moet bel.
Gelukkig is daar mense, wat anders dink ook telefoon oproepe!
Op ‘n aand in Julie 1994, nadat ek maande gewerk, gebid (en veral gehoop het) dat ek genoegsame finansiële ondersteuning sal kan werf om as sendeling Rusland toe te vertrek, lui die telefoon. Toe ek dit antwoord, is daar ‘n vreemde stam aan die anderkant van die lyn. ‘n oom Eddie vra my of ek Willem is en of ek oppad is Rusland toe as sendeling. Nadat ek bevestigend antwoord kom ‘n skielike, baie onverwagte vraag: “Hoeveel het jy nog nodig om te gaan?”
Destyds moes ek die kolosale bedrag van R2000/maand genereer om as sendeling in Rusland te werk. Hiervan het ek met moeite die helfte in beloftes gehad. Ek kommunikeer dit toe aan oom Eddie en hy belowe om terug te bel. Na 2 weke lui die telefoon. Ek was al oortuig dat die vreemde oom my nie weer sal bel nie, toe ek die bekende stem van oom Eddie hoor. Nadat die laaste vraag van hoeveel ek nog benodig deur my met R650/maand beantwoord word, word dieselfde belofte van ‘e bel jou terug’ gemaak en die telefoon is stil.
Sal ek weer twee weke moet wag? Gaan die oom terug bel? Dus was ek baie bly toe oom Eddie twee dae later my met die ‘goeie nuus’ terug bel. “Willem, die Heilige Gees het vir ons gesê dat ons jou moet ondersteun.”
“Maar oom ken my dan nie eens nie…”
“Dit maak nie saam nie. Die Here het gepraat en daarom ondersteun ons jou!” Ek sou seker die grepie uit my lewe hier kon kort-knip, maar dan sou die wonder van daardie oproep nie regtig vir jou verstaanbaar wees nie. Ek het dit self nie verstaan totdat ek die dorpie, waar oom Eddie bly, gaan besoek het nie. Dit was ‘n lang 13 ure tot op Betlehem, waar oom Eddie my voor 4 uur die oggend kom haal het. Omdat dit winter was het ek die dorpie nie gesien voordat ek nie die oggend ‘opgestaan’ het nie. Gewapen met my ou kamera het ek die bultjie uitgeklim en die dorpie van genade (God se finansiële-ondersteunings-genade aan my) van bo af besigtig. Met 3 fotos het ek die hele panorama van Kestell vasgelê.
God kies altyd die matige, sterk, aansienlike nie! God kies die gehoorsame om Sy Wil uit te voer. So het Kestell (en oom Eddie!) se gehoorsaamheid die bronne voorsien om die roeping in my hart realiteit te maak.
Dalk kan jou oproep ook so ‘n geloof-effek tot gevolg hê. Jy sal nie weet voordat jy nie bel nie.
